Tweede Nywerheidsomwenteling

Die Tweede Nywerheidsomwenteling, ook bekend as die Tegnologiese Omwenteling,[1] was 'n fase van die Nywerheidsomwenteling tussen die middel van die 19de eeu en die Eerste Wêreldoorlog wat deur vinnige ekonomiese groei en tegnologiese vooruitgang gekenmerk is.

As tegnologiese uitgangspunt word die invoering van Bessemer-staal in die 1860's beskou, en in die volgende dekades het die tegnologiese vooruitgang sy hoogtepunt met die vroeë elektrifisering van fabrieke, die oorgang tot massavervaardiging en die invoering van produksielyne bereik. Die Tweede Nywerheidsomwenteling is deur die massiewe uitbou van spoornetwerke, die begin van grootskaalse yster- en staalvervaardiging, die wye gebruik van masjiene in die vervaardigingsproses, die wye toepassing van stoomkrag in die nywerheids- en vervoerwese, en die begin van elektriese kommunikasie gekenmerk.

Die tweede industriële rewolusie het gepaard gegaan met 'n massiewe uitbreiding van die nywerheidsektor en snelle industriële groei in lande soos die Verenigde Koninkryk, Duitsland en die Verenigde State, maar ook in Frankryk, die huidige Benelux-lande en Japan. Dit het op die Eerste Industriële Rewolusie gevolg wat in die laat 18de eeu in die Verenigde Koninkryk begin en later ook Wes-Europa en Noord-Amerika geraak het.

  1. "www.education.com: Stephanie Muntone: Second Industrial Revolution". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Oktober 2013. Besoek op 21 Mei 2014.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search